Britse korthaarkat | ||||
![]() | ||||
Land | Brittanje | |||
Ontstaan | Natuurlik | |||
Pels | Kort | |||
Patroon | Alle | |||
Wetenskaplike naam | ||||
Felis catus (huiskat) | ||||
|
Die Britse korthaarkat (Engels: British Shorthair) is ’n katras. Dit is sedert 2001 die gewildste ras wat deur Brittanje se Governing Council of the Cat Fancy (GCCF) geregistreer is toe dit die Persiese kat verbygesteek het.[1]
Britse korthaarkatte is afstammelinge van katte wat deur die Romeine na Brittanje gebring is en daar met wilde katte gemeng het.[2][3][4] Hulle is later met Persiese katte gekruisteel om die pels digter te maak. Die katte is in 1871 reeds geskou.[2] Teen die 1940's het die katte se gewildheid afgeneem, maar ná die Tweede Wêreldoorlog het teelprogramme toegeneem en die katte is nou weer baie gewild.[2]
Die Britse korthaarkat het ’n digte pels en groot, ronde oë wat verskillende kleure kan hê. Hul koppe is rond en die lywe sterk en stewig. Hulle het ’n breë bors, skouers en heupe en kort bene. Die sterte eindig in ’n stomp punt en moenie te wollerig wees nie.[5] Die mannetjies is merkbaar groter as die wyfies. Hulle weeg sowat 5-10 kg, terwyl ’n wyfie sowat 5–7 kg weeg. Soos by baie rasse kan die mannetjie ’n breë kakebeen hê wat hom van ’n wyfie onderskei.
Hul pels kan baie kleure en patrone hê. Jare lank was die blou-grys pels baie gewild en het dié katte selfs hul eie teelnaam, die Britse bloukat, gehad. Daar is egter nou ’n wye verskeidenheid kleure, van swart tot wit, van room tot sjokoladebruin, van lila tot kaneel. Daar is ook kleurpunt-, gestreepte, getinte en tweekleurige katte. Al die kleure en patrone kan ook ’n skilpaddop-patroon hê: ’n kombinasie van rooi, room en ander kleure.[6]
Britse korthaarkatte is verdraagsaam en stabiel en kan maklik binnenshuis aangehou word. Hulle soek nie baie aandag nie en is nie hiperaktief nie. Hulle is geneig om hul eienaars in die huis rond te volg en sal eerder naby jou sit as op jou skoot. Hulle sal ook eerder op die grond gevryf as opgetel word.