geografiese verspreiding van die duiffamilie en -orde
'n Duif is 'n voël wat aan die familie Columbidae en die orde van duifagtiges (Columbiformes) behoort — die familie omvat die hele orde.[1] Die familie bestaan uit sowat 316 spesies,[2] wat inheems is aan die Ou sowel as Nuwe Wêreld. Hul insluiting by die Columbimorphae-klade, en gevolglike verwantskap met sandpatryse en mesiete, dui wel op 'n Ouwêreldse oorsprong. Hul grootste spesiediversiteit is in die vogtige trope en subtrope.[2] Sedert die tyd van die ou Egiptenare is duiwe al makgemaak en benut om boodskappe wat aan hul pote vasgebind was te vervoer. Lank reeds word dié voëls deur tallose toegewyde vliegduifgeesdriftiges aangehou, en uit hierdie bronbevolking het meeste stadsduiwe ontstaan.[3] Hul wetenskaplike familie- en ordename is van "columba", die Latynse naam vir ‘n duif, afgelei.[4]
Dié vegetariese voëlfamilie (en -orde) is tuis in dorre sowel as nat streke, en toon 'n aansienlike variasie in liggaamsgrootte.[1] Sommiges leef in ‘n noue verwantskap met mense, en etlike spesies trek voordeel uit menslike aktiwiteite en landbou.[5] Meeste is standvoëls maar hulle kan daagliks pendel na voedingsareas,[5] lokaal rondtrek na vrug- en bessiedraende bome, of nomadies wees in woestynareas. Hulle benut terrestriële sowel as boomhabitatte, en sommige verlaat nooit die woudbaldakyn nie. Die terrestriële saadvretende en arboreale vrugtevretende spesies word in Engels onderskeidelik as "doves" en "pigeons" onderskei. Die "doves" is oorwegend kleiner gebou met korter, meer geronde sterte.[6]
Aan die voorkant van die slukderm (esofágus) is ‘n krop waarin saad eers geweek word voordat dit na die klierpens vervoer word. Die graanvretende spesies moet daarom gereeld drink,[5] en water word (in teenstelling met ander voëls) opgesuig sonder om die kop agteroor te kantel.[6] Gevolglik kan hulle vinnig 'n groot hoeveelheid water inneem.[3] Grassaad, graan, bessies en vrugte vorm die dieet, maar rysmiere[5] en slakke word ook gevreet.[1] Die vrugtevreters drink soms nie, maar vul hul dieet aan met klam grond of modder ter wille van die minerale daarin.[7]
Die kop is klein en gerond, met soms ‘n ontblote vel om die oog. Aan die sagte basis van die bosnawel (om die neusgate) is ‘n vlesige washuid met onbekende funksie,[6] en aan die snawelvoorpunt ‘n harde uitbulting.[8] Hul digte veredos toon ‘n besonderse netheid van die kontoervere,[8] en die vlerkvere pas insgelyk besonder nousluitend om die rug en sye.[9] Vlekke met kleurspeling is dikwels op die nek- of vlerkdekvere aanwesig.[1] Hul nek is kort, die krop groot,[6] die bene kort en sterk, en die stert groot en tot meerdere of mindere mate gerond.[8][9] Hulle is kompak gebou met sterk, gepunte vlerke[6][9] wat by die groter spesies aansienlike dryfkrag of versnelling in vlug verskaf. ‘n Kransduif kan in pendelvlug ‘n spoed van 80km/h gemaklik handhaaf,[8] terwyl ‘n tortelduif ‘n migrasiespoed van 61 tot 72 km/h volhou.[10] Dorst (1974) het 192 tot 244 hartslae per minuut by ‘n rustende groot duif aangeteken.[10][11]
Duiwe is by tye gregaries by hul voeding-, drink- en oornagplekke, selfs met ander duifspesies. Ander soos die grootringduif vergader weer nooit in groot getalle nie,[5] en geen duiwe maak koloniaal nes nie.[12] Hul territoriale roepe word met ’n geslote snawel[1] en opgebolde keel geuiter, en ‘n vertoonvlug of vertoning reg voor die wyfie is by sommige aanwesig.[5][6] Hulle is monogaam en meestal sonder gender-dimorfisme, alhoewel die mannetjies groter is.[12]
Duiwe broei enige tyd van die jaar, maar oorwegend laatwinter tot lente.[12] Hul neste word in bome of rankplante, op kranse of geboue, of by uitsondering op die grond geplaas.[1] Die karige platformneste uit enkele takkies word deur albei ouers gebou. Hierop word gewoonlik twee gladde wit of troebelwit eiers gelê,[1][5] maar by sommige spesies slegs een,[9] en by ander weer vier.[13] Die inkubasietyd wissel van 12 tot 20 dae, en die kuikenperiode van 11 tot 35 dae.[12] By sommige broei die mannetjie bedags en die wyfie snags.[7] Die altrisiale kuikens is aanvanklik blind met geen of slegs karige dons,[1] maar na ‘n week is hulle reeds met skagvere bedek.[5] Hul mis is nie in ‘n gelatiensakkie gehul nie en die nes word gevolglik bevuil namate hulle groter word.[13] Die ouers verwyder soms die eierdoppe, maar bevuil die nes andersins soos die kuikens, wat moontlik die nes versterk.[13] Die kuikens steek hul snawels in die ouer se keel om duifmelk (soms kropmelk genoem) te kry, wat hul enigste voeding vir die eerste paar dae is, voordat dit deur saad uit die krop vervang word.[13] Duifmelk word deur afbraak van epitheliale selle aan die slukdermwand (esofágus) gevorm.[5] Dit bestaan uit water, vette en proteïene, en die produksie daarvan word deur die enkelketting-proteïenhormoon prolaktien beïnvloed.[13] Die proses en eindproduk toon ooreenkomste met melkproduksie by soogdiere.[5][13] Deur ‘n gebreekte vlerk afleidingsvertoning kan hulle roofdiere van die nes weglok.
↑ 1,01,11,21,31,41,51,61,7Maclean, Gordon Lindsay; Newman, Kenneth; Lockwood, Geoff (1984). Roberts birds of South Africa (5de uitg.). Kaapstad: John Voelcker Bird Book Fund. p. 302. ISBN0-620-07681X.
↑ 6,06,16,26,36,46,5Carnaby, Trevor (2008). "Doves". Beat about the bush: Birds (1ste uitg.). Johannesburg: Jacana. p. 570-572. ISBN9781770092419.
↑ 7,07,1Carnaby, Trevor (2008). "Pigeons". Beat about the bush: Birds (1ste uitg.). Johannesburg: Jacana. p. 665. ISBN9781770092419.
↑ 8,08,18,28,3Prozesky, O.P.M.; van Rooyen, Minette (1964). Uit die Natuur: Ons Voëls. Johannesburg: Voortrekkerpers. p. 153.
↑ 9,09,19,29,3Gill, E. Leonard; Winterbottom, J. M. (hersiening) (1975). A first guide to South African birds (7de uitg.). Kaapstad: Maskew Miller. p. 114. ISBN0623005964.
↑ 10,010,1Bologna, Gianfranco; Mondadori, Arnoldo (1978). The World of Birds: Sampson Low Guides. Sampson Low. pp. 44, 91. SBN 562-00112-3.
↑Dorst J., The Life of Birds, Weidenfeld & Nicolson, Londen, 1974
↑ 12,012,112,212,3Carnaby, Trevor (2008). "Introduction". Beat about the bush: Birds (1ste uitg.). Johannesburg: Jacana. p. 56. ISBN9781770092419.