Die Buffel (Engels: Buffalo) is ‘n infanteriemobiliteitsvoertuig wat deur die Suid-Afrikaanse Weermag tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog gebruik is. Die Buffel is ook as 'n gepantserde gevegsvoertuig gebruik en het homself in hierdie rol bewys. Dit het die ouer Bedford RL-gebaseerde Hippo gepantserde troepedraer vervang en is self vervang deur die Mamba vanaf 1995 in Suid-Afrika,[1] maar bly elders in gebruik, veral deur Sri Lanka.
Die Buffel was die eerste werklik-doeltreffende landmynbeskermde gepantserde personeeldraer wat enige plek in diens geneem is.[2] Die Suid-Afrikaanse Weermag het dit vanaf 1978 in die operasionele gebied begin ontplooi. Die Buffel was 'n verbetering bo die Bosvark wat min beskerming aan die bestuurder gebied het. In 1974 is 54 Mercedes-Benz Unimog 416-162-onderstelle inderhaas deur 61 Basis Werkplaas in Pretoria in Bosvarke omskep. Die Bosvark het beperkte landmynbeskerming aan die bemanning gebied, maar het daarvoor vergoed met goeie veldrymobiliteit.[1][3] Na raming is sowat 2 400 Buffels afgelewer voordat produksie gestaak is. Sri Lanka het Buffels in die 1980's gekoop, en in die vroeë 1990's is die voertuig na Uganda uitgevoer.[1]
Die Buffel was nie 'n geheel Suid-Afrikaans geboude voertuig nie, maar het gebruik gemaak van die onderstel, enjin en sommige ander komponente van die Mercedes-Benz U416-162 Unimog,[1] wat toegerus was met 'n binnelands ontwerpte gepantserde bestuurder se kajuit en aparte gepantserde troepekompartement. Die kajuit was aan die linkerkant geleë met die enjinkompartement aan die regterkant. Later modelle het die oorspronklike Mercedes-Benz OM352-enjin[1] vervang met kopieë wat onder lisensie deur Atlantis Diesel Engines-fabriek naby Kaapstad gebou is.
Landmynbeskerming is verskaf deur die V-vormige romp onder hierdie kompartemente, wat die ontploffing redelik effektief weggestuur het. Die troepekompartement het twee plastiektenks in die V onder die vloer bevat: 'n 200 liter brandstoftenk en 'n 100 liter watertenk. Die watertenk het drinkwater aan die insittendes verskaf deur middel van 'n kraan aan die agterkant van die voertuig. Dit was 'n algemene wanopvatting onder die troepe dat die massa van die water bygedra het tot die ontploffingsbeskerming.
Om te help om die energie van 'n myn te verminder, is die groot bande soms met water gevul, wat sowat 500 kg per wiel by die voertuigmassa gevoeg het.[4]
((cite book))
: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
((cite web))
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |