Die Internasionale Geregshof (IGH, kortweg Wêreldhof, Engels: International Court of Justice, ICJ; Frans: Cour internationale de Justice, CIJ) is die primêre geregtelike been van die Verenigde Nasies (VN). Dis gesetel in die Vredespaleis in Den Haag, Nederland, en verhoor en beslis regskwessies wat deur lidlande van die VN aanhangig gemaak word, en voorsien ook menings oor regsvrae wat deur behoorlik gemagtigde internasionale takke en deur die VN se Algemene Vergadering voorgelê word.
Die Wêreldhof is in 1945 ingevolge die VN-handves gestig en het vanaf 1946 die werksaamhede by sy voorganger, die Permanente Hof vir Internasionale Geregtigheid, oorgeneem. Die Statuut van die Internasionale Geregsghof, soortgelyk aan dié van sy voorganger, is die hoof- konstitusionele dokument wat die Wêreldhof reguleer.[1]
Die Hof se werklas dek 'n wye veld van geregtelike verantwoordelikhede. Sedert die hof uitspraak teen die Verenigde State van Amerika gelewer het oor sy koverte oorlog teen Nicaragua – die hof het bevind dat dit 'n oortreding van die internasionale reg is (Nicaragua v. United States) – het Amerika hom in 1986 onttrek aan verpligte jurisdiksie en aanvaar sedertdien die hof se jurisdiksie op 'n hofsaak-tot-hofsaak-grondslag.[2] Hoofstuk XIV van die VN-handves verleen aan die VN se Veiligheidsraad die mag om die Hof se uitsprake af te dwing. Hierdie mag is egter onderworpe aan die vetoreg van die vyf permanente lede van die Raad, wat in die geval van die Nicaragua-saak uitgeoefen is.
Die IGH bestaan uit 15 regters wat deur die VN se Algemene Vergadering en die Veiligheidsraad vir 9 jaar aangestel word uit 'n lys genomineerdes wat deur die nasionale groep in die Permanente Arbitrasiehof opgestel word. Die kiesproses is in Artikels 4-19 van die IGH se statuut vasgestel. Die verkiesing word oor 'n tyd gedoen met vyf regters wat elke drie jaar gekies word om kontinuïteit van die howe se werksaamhede te verseker. Wanneer 'n dienende regter sterf word daar gewoonlik 'n opvolger met spesiale stemming gekies om die termyn te voltooi.
Daar mag nie twee regters van dieselfde nasionaliteit gelyktydig dien nie. Ingevolge Artikel 9, is die lidmaatskap van die IGH veronderstel om die hoofvorm van die beskawing, en die vernaamste regstelsels in die wêreld te verteenwoordig. In wese, beteken dit die gemenereg, sivielereg en sosialistiese reg (nou post-kommunistiese reg).
Oor die algemeen sit die IGH met 'n volbank van regters, maar in die afgelope 15 jaar, is verhore per geleentheid in kamers aangehoor. Artikels 26-29 van die statuut laat dit toe vir, gewoonlik drie tot vyf regters, om in kamers te mag sit om 'n saak aan te hoor.
Sedert 9 Februarie 2015, is die samestelling van die IGH as volg:[3]
Naam | Nasionaliteit | Posisie | Termyn begin | Termyn eindig |
---|---|---|---|---|
Ronny Abraham | Frankryk | Presidenta | 2005 | 2018 |
Abdulqawi Ahmed Yusuf | Somalië | Vice-Presidenta | 2009 | 2018 |
Hisashi Owada | < Japan | Lid | 2003 | 2021 |
Peter Tomka | Slowakye | Lid | 2003 | 2021 |
Mohamed Bennouna | Marokko | Lid | 2006 | 2024 |
Antônio Augusto Cançado Trindade | Brasilië | Lid | 2009 | 2018 |
Sir Christopher Greenwood | Verenigde Koninkryk | Lid | 2009 | 2018 |
Xue Hanqin | China | Lid | 2010 | 2021 |
Joan E. Donoghue | Verenigde State | Lid | 2010 | 2024 |
Giorgio Gaja | Italië | Lid | 2012 | 2021 |
Julia Sebutinde | Uganda | Lid | 2012 | 2021 |
Dalveer Bhandari | Indië | Lid | 2012 | 2018 |
James Crawford | Australië | Lid | 2015 | 2024 |
Kirill Gevorgian | Rusland | Lid | 2015 | 2024 |
Patrick Lipton Robinson | Jamaika | Lid | 2015 | 2024 |
a 2015–2018. |
Naam | Aangestel | Einde van die termyn | Tuisland | |
---|---|---|---|---|
1 | José Gustavo Guerrero (1876–1958) | 1946 | 1949 | El Salvador |
2 | Jules Basdevant (1877–1968) | 1949 | 1952 | Frankryk |
3 | Arnold McNair (1885–1975) | 1952 | 1955 | Verenigde Koninkryk |
4 | Green H. Hackworth (1883–1973) | 1955 | 1958 | Verenigde State |
5 | Helge Klæstad (1885–1965) | 1958 | 1961 | Noorweë |
6 | Bohdan Winiarski (1884–1969) | 1961 | 1964 | Pole |
7 | Percy Spender (1897–1985) | 1964 | 1967 | Australië |
8 | José Luis Bustamante y Rivero (1894–1989) | 1967 | 1970 | Peru |
9 | Muhammad Zafrullah Khan (1893–1985) | 1970 | 1973 | Pakistan |
10 | Manfred Lachs (1914–1993) | 1973 | 1976 | Pole |
11 | Eduardo Jiménez de Aréchaga (1918–1994) | 1976 | 1979 | Uruguay |
12 | Humphrey Waldock (1904–1981) | 1979 | 1981 | Verenigde Koninkryk |
13 | Taslim Olawale Elias (1914–1991) | 1981 | 1985 | Nigerië |
14 | Nagendra Singh (1914–1988) | 1985 | 1988 | Indië |
15 | José María Ruda (1924–1994) | 1988 | 1991 | Argentinië |
16 | Robert Yewdall Jennings (1913–2004) | 1991 | 1994 | Verenigde Koninkryk |
17 | Mohammed Bedjaoui (* 1929) | 1994 | 1997 | Algerië |
18 | Stephen M. Schwebel (* 1929) | 1997 | 2000 | Verenigde State |
19 | Gilbert Guillaume (* 1930) | 2000 | 2003 | Frankryk |
20 | Shi Jiuyong (* 1926) | 2003 | 2006 | China |
21 | Rosalyn Higgins (* 1937) | 2006 | 2009 | Verenigde Koninkryk |
22 | Hisashi Owada (* 1932) | 2009 | 2012 | Japan |
23 | Peter Tomka (* 1956) | sedert 2012 | Slowakye |
Soos vervat in Artikel 93 van die Handves van die Verenigde Nasies, is al 193 lidlande van die VN outomaties deel van die IGH se statuut.[4] Nie-lidlande kan ook deel word van die IGH se statuut ingevolge die Artikel 93(2) prosedure. Byvoorbeeld, nog voor Switserland 'n lid van die VN geword het, het die land hierdie prosedure in 1948 gevolg om 'n deel van die Hof te word, en Nauru het in 1988 'n lid geword.[5] Sodra 'n staat deel van die IGH se statuut is, is die land geregtig om deel te neem aan hofsake voor die Geregshof. Om deel te wees van die statuut bied die IGH nie noodwendig outomatiese jursidiksie oor die partye wat betrokke by die verhoor is nie. Die kwessie oor jurisdiksie word in die twee tipes van IGH hofsake, omstrede kwessies en raadgewende kwessies, in oorweging geneem.
By omstrede kwessies (waar opponerende partye 'n oplosssing soek vir 'n dispuut), bied die IGH 'n bindende uitspraak in 'n dispuut tussen state waar sodanige state instem om die Geregshof se uitspraak te eerbiedig. Net state mag partye in omstrede sake wees. Indiwidue, korporasies, dele van 'n federasie, nie-regeringsorganisasies en selfbeskikkings-groepe is uigesluit by regstreekse deelname in sake, hoewel die IGH inligting van openbare internasionale organisasies aanvaar. 'n Staat mag, in sake van "diplomatieke beskerming", 'n hofaansoek rig namens een van sy burgers of korporasies.[6]
Jurisdiksie is dikwels 'n kritieke vraag vir die IGH in omstrede sake. Die sleutelbeginsel is dat die IGH net jurisdiksie op grond van toestemmng kan verkry.
'n Raadgewende mening is 'n funksie van die IGH wat net aan spesifieke liggame en agentskappe van die VN beskikbaar is. Sodra die IGH 'n versoek in die verband ontvang word daar besluit watter state en organisasies kan handige inligting voorsien en bied hulle dan die geleentheid om skriftelike of mondelinge voorleggings te bied. Die raadgewende menings bied die geleentheid vir VN-agentskappe om by die IGH om hulp aan te klop om komplekse regskwessies op te los.
In beginsel is die IGH se raadgewende menings net raadplegend in karakter, maar tog invloedryk en word wyd gerespekteer.
'n Raadgewende mening se status en gesag kom van die feit dat dit die amptelike uitspraak van die hoogste regsliggaam van die VN is.[7]
Raadgewende menings was al baie kere omstrede omdat omstrede vrae daar gevra is, of die saak is indirek gebruik om inderwaarheid 'n omstrede kwessie voor die IGH te bring. Een so 'n voorbeeld is die raadgewende mening wat aangevra was oor die wettigheid van die bedreiging van, en die gebruik van kernwapens.
Artikel 94 bepaal die plig van alle VN-lidlande om die uitsprake en besluite van die IGH, wat hulle raak, te eerbiedig. Indien partye nie gehoor wil gee hieraan nie kan dit voor die Veiligheidsraad gebring word om dit af te dwing. Daar is egter uit die aard van die saak probleme om dit op so 'n manier af te dwing. As die uitspraak teen een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad, of sy bondgenote is, kan die afdwingbaarheid van so 'n resolusie ge-veto word. Dit het byvoorbeeld gebeur toe Nicaragua Amerika se weiering om gehoor te gee aan die Nicaragua-saak, voor die Veiligheidraad gebring het.[8] As die Veiligheidsraad weier om 'n uitspraak teen enige staat af te dwing, is daar geen ander manier om die skuldige staat te dwing om gehoor te gee nie. Die effektiefste manier wat die Veiligheidsraad kan optree, dwangaksie ingevolge Hoofstuk VIII van die VN-handves, is net wanneer wêreldvrede en -sekuriteit op die spel is. Die Veiligheidsraad het dit tot dusver nog nie gedoen nie.
Die internasionale reg, soos saamgevat in Artikel 38 van die IGH se statuut, word toegepas ingevolge die internasionale konvensies, internasionale gebruike en die "algemene regsbeginsels, wat in beskaafde lande erken word." Artikel 59 stel dit baie duidelik dat die gebruik van die gemenereg van presedent of stare decisis nie in die IGH van toepassing is nie. Die Hof se bevinding het net betrekking op die partye in daardie spesifieke omstredenheid. Die IGH mag egter ingevolge 38(1)(d) sy eie vorige uitspraak oorweeg.
Indien die partye ooreenkom, kan hulle ook die Hof vergun om ex aequo et bono (in geregtigheid en regverdigheid),[19] 'n billike besluit te maak wat gegrond is op dit wat, onder die omstandighede, regverdig sal wees. Dit is tot dusver nog nooit toegepas nie. Die Internasionale Geregshof het sowat 130 sake hanteer
Die IGH het die mag om sy eie reëls te maak. Die hofprosedure word in die Hofreëls van die Internasionale Geregshof 1978 uiteen gesit.[20]
Verhore voor die IGH volg 'n bepaalde patroon. Die saak word deur die applikant ingedien met 'n geskrewe dokument wat die grondslag van die Hof se jurisdiksie uiteensit, en die meriete van die aansoek. Die respondent kan die Hof se jurisdiksie aanvaar en sy eie opsomming van die meriete van die saak indien.
Na beraadslaging lewer die Hof 'n meerderheidsmening. Indiwiduele regters kan ook 'n mening uitbring wat saamstem in gevalle waar hulle egter verskil van die beredenering van die saak, of 'n afkeurende mening (waar de regter versil van die meerderheidsmening). Geen appèl word toegelaat nie, maar die partye kan die Hof om 'n verduideliking vra as daar 'n dispuut ontstaan oor die bedoeling of omvang van die Hof se uitspraak.[21]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Internasionale Geregshof. |