Die Twaalf Olimpiërs deur Nicolas-André Monsiau, omstreeks laat 18de eeu.

Die Olimpiese gode, ook bekend as die Twaalf Olimpiërs of die Dodekateon (Grieks: Δωδεκάθεον – δώδεκα, dōdeka, "twaalf" + θεοί, theoi, "gode") is die belangrikste twaalf gode van die panteon in die Griekse mitologie wat bo-op die berg Olimpus gewoon het. Die eerste antieke verwysing na godsdienstige seremonies vir hulle word gevind in die lofsang van Homeros aan Hermes.

Die klassieke twaalf Olimpiese gode is: Zeus, Hera, Poseidon, Demeter, Ares, Hermes, Hefaistos, Afrodite, Atena, Apollo, Artemis en Hestia (later vervang deur Dionisos). Die ooreenstemmende Romeinse gode was: Jupiter, Juno, Neptunus, Ceres, Mars, Mercurius, Vulcanus, Venus, Minerva, Apollo, Diana en Vesta.[1]

Geskilpunte

Daar is verskillende sienings oor wie die twaalf belangrikste gode was.[2] Omstreeks 400 v.C het Herodotos die volgende gode in die Dodekateon ingesluit: Zeus, Hera, Poseidon, Hermes, Atena, Apollo, Alfeus, Kronos, Rea en die Grasieë.[3] Wilamowitz stem saam met Herodorus se weergawe.[4]

Herodotos het ook genoem dat Herakles deur sommige ingesluit word as een van die Twaalf Olimpiërs.[5] Ook Lucianus het Herakles sowel as Asklepios ingesluit, sonder om te verduidelik watter twee vir hulle moes plek maak. By Kos is Herakles en Dionisos ingesluit en Ares en Hefaistos weggelaat.[6] Pindarus, Apollodorus[7] en Herodorus verskil egter hiermee. Vir hulle was Herakles nie een van die twaalf nie, maar die een wat hul kultus begin het.[3]

Plato het die Twaalf Olimpiërs met die twaalf maande verbind en voorgestel dat die laaste maand gewy word aan vierings ter ere van Pluto en die geeste van die afgestorwenes. Hy impliseer dat hy Hades as een van die twaalf beskou.[8] Hades word later weggelaat weens sy chtoniese (onderwêreldse) verbintenisse.[9] In Phaedrus bring Plato die twaalf gode in lyn met die diereriem en sluit Hestia uit.[10]

Hestia word soms deur Dionisos vervang.[9] Hebe, Helios en Persefone is ander belangrike gode wat soms in ’n groep van twaalf ingesluit word. Eros word soms saam met die ander twaalf genoem, veral saam met sy ma, Afrodite, maar word selde as een van die twaalf beskou.

Die twaalf Olimpiese gode het hul oppermag in die wêreld van die gode gekry nadat Zeus sy broers en susters tot oorwinning gelei het in die oorlog teen die Titane. Zeus, Hera, Poseidon, Demeter, Hestia en Hades was broers en susters. Ares, Hermes, Hefaistos, Afrodite, Atena, Apollo, Artemis, die Grasieë, Herakles, Dionisos, Hebe en Persefone was kinders van Zeus. Volgens sommige bronne was Hefaistos net Hera se kind en het Uranos die lewe aan Afrodite geskenk.

Lyste

Klassieke Olimpiese gode

Griekse naam Romeinse naam Standbeeld God(in) van... Generasie
Zeus Jupiter Oppergod en heerser van die berg Olimpus; god van die lug, donderweer en justisie. Eerste
Hera Juno Vrou van Zeus; godin van die hemelruim, vroue, huwelike en moederskap. Eerste
Poseidon Neptunus Heerser van die see; god van die oseane, aardbewings; skepper van perde. Eerste
Demeter Ceres Godin van vrugbaarheid, die landbou, natuur en die seisoene. Eerste
Hestia Vesta Godin van huis en haard (is weg van Olimpus sodat Dionysos een van die twaalf kon word). Eerste
Afrodite Venus Godin van liefde, skoonheid, begeerte en vrugbaarheid. Tweede [A]
Apollo Apollo Die songod; god van die lig, genesing, musiek, die digkuns, voorspellings, boogskiet en die waarheid. Tweede
Ares Mars God van oorlog, waansin, haat en bloedvergieting. Tweede
Artemis Diana Godin van die jag, maagde en die maan. Tweede
Atena Minerva Godin van wysheid, kunsvlyt en strategiese gevegskuns. Tweede
Hefaistos Vulcanus Grofsmid van die gode; god van vuur en smeltoonde. Tweede
Hermes Mercurius Boodskapper van die gode; god van handel, spoed en diewe. Tweede
Notas

Ander lyste

Die volgende gode is nie deel van die klassieke indeling van die twaalf Olimpiese gode nie, maar kom soms voor op ander lyste van die twaalf as die een hier bo.

Na aan die Olimpiese gode

Verwysings

  1. "Greek mythology". Encyclopedia Americana 13. (1993). 
    * "Dodekatheon". Papyros-Larousse-Britanicca. (2007). 
  2. Uit Stoll, Heinrich Wilhelm (vertaal deur R.B. Paul) (1852). Handbook of the religion and mythology of the Greeks. Francis and John Rivington. p. 8. Die beperking van hul getal tot twaalf is skynbaar 'n redelik moderne idee
  3. 3,0 3,1 "Dodekatheon". Papyros-Larousse-Britanicca. (2007). 
  4. Wilamowitz-Moellendorff, Ulrich von (1931–1932). Der Glaube der Hellenen (Volume 1) (in Duits). Berlyn: Weidmansche Buchhandlung. p. 329.
  5. Herodotos, Histories (Herodotus), 2.43–44
  6. Berger-Doer, Gratia (1986). "Dodekatheoi". Lexicon Iconographicum Mythologiae Classicae 3. 646–658. 
  7. Pindar, Olympian Odes, 10.49
  8. Plato, Wette, 828d-e
  9. 9,0 9,1 "Greek mythology". Encyclopedia Americana 13. (1993). 
  10. , Plato: Phaedrus, 246e-f

Eksterne skakels