Paralimpiese Spele is die Olimpiese Spele vir atlete met liggaamlike gestremdhede, uitgesluit dowe en verstandelik gestremde persone. Vir dowes word die Dooflimpiese Spele georganiseer en die Spesiale Olimpiade word vir verstandelik gestremde persone georganiseer.
In 1948 organiseer Sir Ludwig Guttman 'n sportwedstryd in Engeland vir veterane uit die Tweede Wêreldoorlog met rugbeserings. Vier jaar later neem atlete uit Nederland ook aan die Spele deel en die internasionale byeenkoms wat tans die Paralimpiese Spele heet, word gebore.
In 1976 neem groepe met verskillende tipes gestremdhede aan die Spele in Toronto deel, en in dieselfde jaar word die eerste Paralimpiese Winterspele in Swede georganiseer.
Tans bestaan die Paralimpiese Spele vir atlete uit 6 verskillende groepe van gestremdhede. Die klem val op wat die atlete kan vermag, eerder as op hulle gestremdhede en waartoe hulle nie in staat is nie. Die aantal atlete wat deelneem het baie gegroei sedert die begin, van 400 atlete in Rome in 1960 tot 3195 tydens die Spele in Atlanta in 1996.
Die Paralimpiese Spele word altyd in dieselfde jaar as die Olimpiese Spele gehou en sedert 1988 word dit ook altyd op dieselfde perseel gehou. Sedert 2012 is die stad wat die Olimpiese Spele organiseer ook verplig om die Paralimpiese Spele te organiseer.[1]
In 2018 is die Paralimpiese Winterspele in Pyeongchang, Suid-Korea, beslis. Die volgende Paralimpiese Somerspele sal in 2020 in Tokio, Japan, aangebied word.
Trischa Zorn van die Verenigde State is die mees gedekoreerde Paralimpiër in die geskiedenis. Sy neem vanaf 1980 tot en met 2004 aan die swem vir visueel gestremde atlete deel. In totaal wen sy 55 medaljes, waarvan 41 goud.
Ragnhild Myklebust van Noorweë hou die rekord vir die meeste medaljes op die Paralimpiese Winterspele. Sy neem in 1988, 1992, 1994 en 2002 aan die ys-sleeresies, heg-en-steg-skiwedloop en tweekamp deel. In totaal wen sy 22 goue medaljes, 3 silwer medaljes en 2 brons.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Paralimpiese Spele. |