Pije | ||||
Pianchi | ||||
Die Oorwinningstele van Pije. | ||||
Farao van die 25ste Dinastie | ||||
Periode | 752–721 v.C. | |||
Voorganger | Kasjta | |||
Opvolger | Sjabaka | |||
Vader | Kasjta | |||
Oorlede | 721 v.C. | |||
Monumente | Oorwinningstele by Djebel Barkal | |||
|
Pije (voorheen ook Pianchi;[1] oorlede 721 v.C.) was ’n koning van Koesj en die stigter van die 25ste Dinastie van Antieke Egipte. Hy het van 753/752 tot 722 v.C. oor Egipte regeer[2] vanaf die stad Napata in Nubië, in die hedendaagse Soedan.
Pije het twee troonname aangeneem: Oesimare en Sneferre. Hy was passievol oor die aanbidding van die god Amoen en het die tempel van Amoen by Djebel Barkal, wat deur Toetmoses III van die Nuwe Ryk laat bou is, gerestoureer.
As heerser van Nubië en Bo-Egipte het Pije die rusies tussen Egipte se leiers tot sy voordeel gebruik deur Nubië se mag verby Thebe tot in Benede-Egipte uit te brei. Nadat farao Tefnacht van Saïs ’n koalisie gevorm en die stad Herakleopolis aangeval het, het dié se koning, Peftjauawybast, Pije se hulp gevra. Pije het Middel- en Benede-Egipte in sy 20ste bewindsjaar binnegeval. Sy oorwinning in die veldtog is aangeteken op sy Oorwinningstele by Djebel Barkal.
Hierna het hy noord getrek en verskeie stede soos Hermopolis en Memphis ingeneem. Tefnakht het gevlug en persoonlik sy nederlaag erken in ’n brief aan Pije. Tevrede met sy oorwinning, het Pije suid na Thebe gevaar en van daar na sy vaderland, Nubië, teruggekeer. Hy het Egipte van hier af regeer en nooit na dié land teruggekeer nie.