SKA | ||||
Ander naam | Square Kilometre Array | |||
Tipe | Gefaseerde reeks | |||
Gebou | 2019-2030 | |||
Webtuiste | www.skatelescope.org | |||
Ligging | ||||
Plek | Suidelike Halfrond | |||
Koördinate | 30°43′16″S 21°24′40″O / 30.72111°S 21.41111°O | |||
|
Die Square Kilometre Array (SKA) is ’n groot, veelvuldige radioteleskoopprojek wat besig is om in Suid-Afrika en Australië gebou te word. Dit sal by voltooiing uit meer as 3 000 radioteleskope bestaan. Twee derdes van die radioteleskope sal in Suid-Afrika gebou word en die ander in Australië.
Dit sal ’n totale versamelingsgebied van sowat een vierkante kilometer hê.[1][2] Dit sal oor ’n groot omvang frekwensies werk en vanweë sy grootte sal dit 50 keer sensitiewer wees as enige ander radio-instrument. Dit behoort die hemelruim meer as 10 000 keer vinniger as tevore te verken.
Met ontvangerstasies wat van ’n sentrale punt af oor minstens 3 000 km strek, sal dit radiosterrekunde se vermoë benut om die beelde met die hoogste resolusie op alle terreine van sterrekunde te verskaf. Die SKA word in die Suidelike Halfrond gebou, in Afrika suid van die Sahara met kernpunte in Suid-Afrika en Australië, waar die uitsig op die Melkweg die beste en radioversteurings die minste is.[3]
Bouwerk het in 2019 begin en aanvanklike waarnemings word teen 2022 beplan. Die SKA word in twee fases gebou, met fase 1 wat sowat 10% van die hele teleskoop se vermoë verteenwoordig.[4][5] Fase 1 se koste is in 2013 op €650 miljoen vasgestel, terwyl fase 2 se koste nog nie vasgestel is nie.[6]
Hemelliggame straal elektromagnetiese straling uit wat opgevang of bespeur kan word met die regte toerusting, soos 'n radioteleskoop. 'n Radioteleskoop bestaan uit skottelantennes en stralingsvlakantennes wat die hele spektrum dek. Al die radioteleskope word met 'n sentrale beheer-en-verwerkingskamer verbind deur kabels van optiese vesel. Die inligting word hier met rekenaars verwerk om ’n beeld te skep wat vir die mens duidelik is. Die spektrum van die radioteleskoop is baie wyer as wat deur ’n optiese teleskoop gesien kan word. Optiese vesel word bo koperdraad verkies omdat dit bestand is teen elektromagnetiese straling, soos weerlig.
Die SKA-hoofkwartier sal in Cheshire, Engeland, wees[7] terwyl die teleskope hoofsaaklik in Suid-Afrika en Australië opgerig sal word.[8] Die sentrale rekenaar sal 'n verwerkingsvermoë van 100 miljoen persoonlike rekenaars hê en sal 1018 opdragte per sekonde kan verwerk.
'n Klomp klein, laefrekwensie-stralingsvlakantennes sal in Australië opgerig word tydens Fase 1. Die tipe antenne is sowat 1,5 m hoog. Daar sal ook sestig hoëfrekwensieskottelantennes in Australië opgerig word as deel van Fase 1. Dié antennes is sowat 15 m hoog.
Terwyl Nieu-Seeland ook 'n lid van die SKA-organisasie is lyk dit of geen antennas daar opgerig sal word nie.[9]
Tydens Fase 1 is ongeveer 190 antennas opgerig. Tydens Fase 2 sal 3 000 skottelantennes in Suid-Afrika opgerig word. Al die antennes sal in die Noord-Kaap wees, in die gebied suid van die N14, wes van Upington, suidwes van die N10 tussen Upington en waar die N10 die N12 kruis, wes van die N12 en Victoria-Wes en weswaarts van Brandvlei en Williston. Hierdie gebied is spesifiek gekies omdat daar min magnetiese versteurings is soos in stedelike gebiede ondervind word. Suid-Afrika se aandeel in die SKA is verreweg die grootste.
Ander stasies in Afrika suid van die Sahara sal in Botswana, Ghana, Kenia, Madagaskar, Mauritius, Mosambiek, Namibië en Zambië opgerig word.
Wikimedia Commons bevat media in verband met SKA. |