The Beatles
Beatles (1964)
Agtergrondinligting
OorsprongLiverpool, Engeland (VK)
GenresPop
Jare aktief1960 tot 1970
EtiketteEMI, Parlophone, Capitol, Odeon, Apple, Vee-Jay, Polydor, Swan, Tollie, UA
AssosiasiesThe Quarrymen, Plastic Ono Band, The Dirty Mac, Wings, Traveling Wilburys, Rory Storm and the Hurricanes, Ringo Starr and His All-Starr Band, Tony Sheridan
Webwerfwww.thebeatles.com
LedeJohn Lennon
Paul McCartney
George Harrison
Ringo Starr
Gewese ledeStuart Sutcliffe
Pete Best

The Beatles was 'n legendariese rock 'n' roll-groep wat bestaan het uit vier Britse jongelinge uit Liverpool, naamlik John Lennon, Paul McCartney, Ringo Starr en George Harrison. Hierdie groep het die wêreld se treffersparade reg deur die sestigerjare oorheers soos geen ander groep voor of na hulle ooit weer nie. Hulle was waarskynlik die invloedrykste rock 'n' roll-groep van alle tye.[1] Die 'Fab Four' het 'n populêre histerie in Brittanje begin wat deur die Britse pers as 'Beatlemania' gedoop is en wat na Amerika versprei het. Dit het die Amerikaanse mark oopgestel vir 'n Britse inval van groepe soos die Dave Clark Five, die Rolling Stones en die Kinks.

Met hulle bossiekophaarstyle, kraaglose Pierre Cardin-pakke, speelse geestigheid, lewendige persoonlikhede en genotsugtige houdings teenoor die lewe, het hulle die beliggaming van die sestigerjare se styl geword. Hulle nalantenskap het 'n onmeetbare invloed op hedendaagse popmusiek gehad aangesien hulle die klank van klassieke Amerikaanse rockmusiek in 'n onbeperkte verskeidenheid harmonieë, strukture en klanke verander het. In 1965 het die Beatles 'n koninklike toekenning van die koningin ontvang (as lid van die orde van die Britse Ryk) en in 1988 is hulle in die Rock and Roll Hall of Fame bevestig.

Onder hulle treffers tel Love Me Do, I Want to Hold your Hand, A Hard Day’s Night, Yellow Submarine en Sergeant Pepper’s Lonely Hearts Club Band.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

John Lennon se eerste groep, The Quarrymen, het op 6 Julie 1957 in Liverpool by 'n kerkpiekniek gespeel toe John vir Paul McCartney ontmoet het. Hulle gedeelde liefde vir Amerikaanse rock 'n' roll het hulle saamgebind en McCartney het by Lennon se groep aangesluit en sy liedjieskrywer-geesgenoot geword. Na George Harrison by die groep aangesluit het as hoofghitaarspeler het hulle die naam verander na Johnny And The Moondogs en in 1960 het hulle dit weer verander na The Silver Beetles wat later die Beatles geword het.

In Augustus 1960, met Pete Best as hulle nuwe dromspeler, het hulle begin met 'n reeks besoeke aan Duitsland waar hulle aan hulle repertoire in die bierkroeë in die rooiligdistrik van Hamburg gewerk het. Terug in Liverpool, in November 1961, het Brian Epstein, 'n plaaslike platewinkeleienaar, hulle opgemerk terwyl hulle in die Cavern Club gespeel het. Hy het hulle bestuurder geword en Best met 'n ander Liverpool-dromspeler, Ringo Starr, vervang. Hy het ook hulle beeld van 'deugniet' na 'deugsaam' verander.

Na hulle in Mei 1962 'n oudisie met EMI se Parlophone-filiaal geslaag het, het hulle hulle eerste enkelsnit, Love Me Do, opgeneem wat hulle eerste Britse toptwintigtreffer was. In Januarie 1963 is 'n tweede enkelsnit, Please Please Me, vrygestel wat nommer twee op die treffersparades gehaal het. Met die sukses van hulle derde enkelsnit, From Me To You, wat nommer een gehaal het, het 'Beatlemania' uitgebreek en van toe af het die Beatles, orals waar hulle gegaan het, polisiebeskerming benodig teen jillende aanhangers. Later in daardie jaar het She Loves You die enkelsnit met die beste verkope in die Britse geskiedenis geword.

'Beatlemania' het in Februarie 1964 na Amerika versprei toe die Beatles op The Ed Sullivan Show verskyn het met 70 miljoen mense wat gekyk het. In April 1964 was die vyf toptreffer-enkelsnitte en twee toptreffer-albums op die Amerikaanse treffersparades die Beatles en Can't Buy Me Love het die eerste plaat geword wat gelyktydig die nommer 1-posisie op die Britse en Amerikaanse treffersparades beklee het. Tussen 1965 en 1967 het die Beatles ontwikkel van tienerafgode na ware kunstenaars en het hulle met verskeie style begin eksperimenteer, waaronder psigedelies, klassiek, volk en Oosters-spiritualisties.

Na 'n finale konsert op 29 Augustus 1966 in San Francisco het die Beatles opgehou toer en op ateljee-opnames begin fokus en baie meer meesterstukke geproduseer, waaronder Sgt. Pepper's Lonely Hearts Club Band en Abbey Road.

Op 27 Augustus 1967 is Brian Epstein oorlede aan 'n oordosis slaappille en die verhouding tussen Lennon en McCartney het vinnig verswak weens spanning en skinderstories. Op 10 April 1970 het McCartney aangekondig dat die groep ontbind. Elkeen het sy afsonderlike rigting ingeslaan en alhoewel al vier solo-albums gemaak het, het nie een naby gekom aan die sukses wat hulle as 'n groep behaal het nie. Alle spekulasies oor of hierdie merkwaardige groep weer herenig sou word, het beëindig toe John Lennon op 8 Desember 1980 deur 'n versteurde aanhanger vermoor is. Harrison is in 2001 aan longkanker oorlede.

Britse diskografie

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]