Die verstrooide skyf is ’n verafgeleë streek van die sonnestelsel waar min, ysige kleinplanete voorkom. Dit is een van die groepe trans-Neptunus-voorwerpe.
Die voorwerpe het wentelbaanafwykings (wat dui op hoe ver dit van sirkelvormig af is) van tot 0,8, inklinasies van tot 40° en perihelions (die naaste afstand aan die Son in sy baan) van meer as 30 AE (astronomiese eenhede). Hierdie ekstreme wentelbane word vermoedelik veroorsaak deur swaartekrag-"verstrooiing" deur die gasreuse, asook verdere versteurings deur die planeet Neptunus.
Die naaste afstand wat dié voorwerpe aan die Son kom, is sowat 30-35 AE, en hulle kan tot verder as 100 AE van die Son af beweeg. Dus is verstrooide voorwerpe van die verste en koudste liggame in die sonnestelsel.[1] Die naaste deel van die verstrooide skyf oorvleuel met ’n deel van die Kuiper-gordel.
Vanweë die onstabiele aard van die voorwerpe beskou wetenskaplikes die verstrooide skyf as die plek van oorsprong van die meeste periodieke, of kortstondige, komete in die sonnestelsel – met sentoure (ysliggame tussen Jupiter en Neptunus) as die oorgangsfase in ’n voorwerp se migrasie van die skyf na die binneste deel van sonnestelsel.[2] Eindelik stuur versteurings deur die groot planete sulke voorwerpe in die rigting van die Son en verander hulle in periodieke komete. Baie voorwerpe in die Oort-wolk het waarskynlik ook in die verstrooide skyf ontstaan.
Die eerste verstrooideskyfvoorwerp (VSV) wat as sulks erken is, is 1996 TL66,[3][4] wat in 1996 deur sterrekundiges op Hawaii geïdentifiseer is. Nog drie is in dieselfde opname in 1996 geïdentifiseer: 1999 CV118, 1999 CY118 en 1999 CF119.[5] Die eerste voorwerp wat ontdek is wat tans as ’n VSV geklassifiseer is, is 1995 TL8, wat in 1995 gevind is.[6] Teen 2011 was meer as 200 VSV'e al ontdek.[7]
((cite journal))
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
((cite book))
: AS1-onderhoud: ekstra leestekens (link)