Sargon van Akkad | |
---|---|
Koning van Akkad, Kisj, Lagasj, Umma en Uruk, opperheer van Sumer, Elam, Mari en Jarmut | |
Dinastie | Huis van Sargon |
Bewind | c. 2334-2279 v.C. |
Volle naam | Šarru-kin ("die ware/wettige koning") |
Gebore | Onbekende datum |
Azupiranu | |
Gesterf | 2279 v.C. |
Akkad, Mesopotamië | |
Opvolger | Rimush |
Gade van | Tashlultum |
Kinders | Enheduanna, Rimush, Manishtushu, Ibarum, Abaish-Takal |
Sargon van Akkad, ook bekend as Sargon die Grote (Akkadies: Šarru-kīnu, "die ware/wettige koning"),[1] was ’n Semitiese Akkadiese keiser wat bekend is vir sy verowering van Sumeriese stadstate in die 24ste en 23ste eeu v.C. Hy was die stigter van die dinastie van Akkad en het in die tweede laaste kwart van die 3de millennium v.C. regeer.
Volgens wigskrifbronne was hy die skinker van koning Ur-Zababa van Kisj. Hy het die koning volgens latere bronne vermoedelik vermoor en sy bewind oorgeneem voordat hy probeer het om die hele Mesopotamië te verower. Hy is aanvanklik "Sargon I" genoem, maar latere rekords het getoon daar was ook ’n Assiriese koning met die naam Sargon (na wie gewoonlik as "Sargon I" verwys word).[2]
Daar word geglo dat Sargon se ryk groot dele van Mesopotamië ingesluit het wat onder meer dele van die hedendaagse Iran, Klein-Asië en Sirië was. Sy hoofstad was die nuwe, maar tot nog toe onontdekte Akkad, wat hy volgens die Sumeriese koningslys óf laat bou óf laat restoureer het.[3] Hy word soms beskou as die eerste persoon in die bekende geskiedenis wat ’n multi-etniese, sentraal regeerde ryk geskep het, hoewel dié eer ook die Sumeriese Lugal-zage-si kan toekom. Sy dinastie het Mesopotamië sowat een en ’n half eeu lank beheer.[4]
Sargon kom as 'n legendariese figuur voor in die Nieu-Assiriese letterkunde van die 8ste tot 7de eeu v.C. Tablette met fragmente van 'n Sargon-geboortelegende is ook in die Biblioteek van Assurbanipal ontdek.[5][6][7]
Die Akkadiese naam word gewoonlik geskryf as Šarru-ukīn of Šarru-kēn. Die wigskrifspelling is onderskeidelik LUGAL-ú-kin, šar-ru-gen6, šar-ru-ki-in of šar-ru-um-ki-in.[11]
Op tablette uit die Ou Babilonië wat oor legendes van Sargon handel, word sy naam geskryf as 𒊬𒊒𒌝𒄀𒅔 (Šar-ru-um-ki-in).[12] In Laat Assiriese verwysings word die naam gewoonlik LUGAL-GI.NA of LUGAL-GIN gespel, nes dié van die Nieu-Assiriese koning Sargon II.[13] Die spelling "Sargon" kom van die enkele verwysing na die naam in die Ou Testament, in Jesaja 20:1.
Die eerste element van die naam is šarru, die Akkadiese woord vir "koning". Die tweede element is afgelei van die werkwoord kīnum "om te vestig, bevestig".[14] 'n Moontlike vertolking van die naam Šarru-ukīn is "die koning het (stabiliteit) gevestig" of "hy [die god] het die koning bevestig". Daar word gedebatteer of dit 'n aangenome troonnaam of 'n geboortenaam is.[15][16]
Primêre bronne wat na Sargon verwys, is skaars. Die belangrikste verwysings na hom min of meer uit sy tyd is die verskillende weergawes van die Sumeriese koningslys. Hier word Sargon genoem as die seun van 'n tuinier en as die voormalige skinker van Ur-Zababa van Kisj. Hy het die koningskap van Uruk by Lugal-zage-si afgeneem en teruggekeer na sy eie stad, Akkad. Die Weidnerkroniek sê Sargon het direk ná Ur-Zababa regeer en noem Lugal-zage-si glad nie.[17] Verskillende weergawes van die koningslys gee die lengte van sy bewind aan as óf 40 óf 54-56 jaar.[18] Talle fragmente met verwysings na Sargon is ook bekend.[19]
In moderne tye sal sy bewind aangedui word as omstreeks 2334-2279 v.C. Sy opvolgers tot met die Goetese oorwinning van Sumer is ook bekend as die Sargondinastie en hulle bewind as die Sargontydperk van Mesopotamiese geskiedenis.[20]
Volgens Foster (1982) is Sargon se bewindstydperk van 55 jaar 'n verkeerde vertolking van die oorspronklike 37 jaar. 'n Ouer weergawe van die koningslys gee sy bewind aan as 40 jaar.[21]
Thorkild Jacobsen dui aan die betekenis van die woord "tuinier" as Sargon se pa is onseker.[22] Ur-Zababa en Lugal-zage-si word albei as konings gelys, maar word geskei deur verskeie heersers van Kisj, wat dalk net goewerneurs of vasalheersers onder die Akkadiese Ryk was.[23]
Die bewering dat Sargon die oorspronklike stigter van Akkad was, word ook in twyfel getrek nadat 'n inskripsie ontdek is waarin die plek en datum verwys na die bewind van Enshakushanna, wat feitlik vir seker voor Sargon regeer het.[24] In die Weidnerkroniek (ABC 19:51) word beweer Sargon het "Babilon voor Akkad gebou".[25][26] Ook volgens die Kroniek van Vroeë Konings (ABC 20:18-19) het Sargon Babilon gebou en toe Akkad.[26][27] Van de Mieroop stel voor albei kronieke verwys na die veel latere koning Sargon II van die Nieu-Assiriese Ryk.[28]
Dit lyk of Sargon die gebruik van Akkadies in inskripsies aangemoedig het. Hy noem homself dikwels "koning van Akkad" eerste, nadat hy blykbaar die stad Akkad gestig het. Dit lyk of hy in die een of ander stadium beheer van Kisj oorgeneem het en later 'n groot deel van Mesopotamië, want hy verwys na homself as "Koning van Akkad, meester van Inanna, koning van Kisj, gesalfde van Anoe, koning van die land Mesopotamië, goewerneur (ensi) van Enlil".[30]
Tydens Sargon se bewind is Oos-Semities gestandaardiseer en aangepas vir gebruik saam met die vorm van wigskrif wat voorheen in Sumeries gebruik is om te vorm wat nou as Akkadies bekend is.
'n Styl van kalligrafie is ontwikkel waarin teks op kleitablette en silinderseëls tussen mitologiese en rituele tonele gerangskik is.[31]
Terwyl verskeie afskrifte van die Sumeriese koningslys en latere Babiloniese kronieke bestaan waarvolgens Sargon 'n bewindstydperk van tussen 34 en 56 jaar het, is gedateerde dokumente vir net vier verskillende jaarname van sy bewind ontdek.
Die name van dié vier jaar beskryf sy veldtogte teen Elam, Mari, Simurrum en Uru'a.[32]
Onder die belangrikste bronne vir Sargon se bewind is 'n tablet van die Ou Babiloniese tydperk wat in die 1890's by Nippur ontdek is deur 'n ekspedisie van die Universiteit van Pennsilvanië. Die tablet is 'n afskrif van die inskripsies op die voetstuk van die standbeeld wat Sargon in die tempel van Enlil laat oprig het.[36]
In die inskripsie beskyf Sargon hom as Sargon, koning van Akkad, meester van Inanna, koning van Kisj, gesalfde van Anoe, koning van die land Mesopotamië, ensi van Enlil". Dit vier die oorwinning van Uruk en die onderwerping van Lugal-zage-si, wat Sargon "in 'n halsband na die poort van Enlil" gebring het.[37]
Sargon het Ur en E-Ninmar daarna verower en die gebied tussen Lagasj en die see "verwoes", waarna hy Umma verower en verwoes het.[38][38]
Sargon het die inwoners van die gebiede wat hy verower het, toegelaat om hulle plaaslike leiers en tradisies te behou. Hulle moes egter gehoorsaam aan hom wees en heffings betaal in ruil vir hulle veiligheid. Die mense was lojaal aan Sargon vanweë sy beleide, wat tot die handhawing van vrede gelei het. Hy het Akkadies as die ampstaal van die regering aangewys en vaste mates en gewigte ingestel.[39]
Nadat hy hom onderwerp het aan die god Dagon van die Levant het Sargon gebiede van Bo-Mesopotamië en die Levant ingeneem, tot by die "Seder- en die Silwerberg", waarna hy van die "boonste see" (Middellandse See) tot die "onderste see" (Persiese Golf) regeer het.[40]
Sargon beweer ook in sy inskripsie hy is "Sargon, koning van die wêreld, veroweraar van Elam en Parahshum", die twee belangriste state oos van Sumer.[41] Hy noem ook verskeie heersers van die ooste wat hy oorwin het, soos Luh-uh-ish-an, seun van Hishibrasini, koning van Elam, generaal van Parahshum".[41]
Sargon het oor altesaam 34 stede geseëvier. Skepe van oral het in sy hoofstad, Akkad, voor anker gelê.[42] Hy het 'n leër van 5 400 man gehad wat "daagliks voor hom brood geëet het".[37]
'n Groep van vier Babiloniese tekste, wat die "Sargon-epos" of Res Gestae Sargonis genoem word, beskryf Sargon as 'n militêre bevelvoerder wat die raad van baie van sy ondergeskiktes vra voordat hy op veldtogte gaan.
Die verhaal van "Sargon, die oorwinnende held" speel af in Sargon se hof, in 'n krisissituasie. Sargon spreek sy vegters toe en prys die deug van heroïsme, en 'n howeling hou 'n toespraak oor die glorie wat die kampioen van 'n leër kry. Dit gaan oor 'n veldtog van Sargon na die verre land Uta-raspashtim en sluit 'n vertelling in oor die "son wat donker word" en die verowering van die land "Simurrum". Daarna praat Sargon en lys hy sy oorwinnings.[44]
Die verhaal "Koning van Gevegte" gaan oor Sargon se veldtog teen die Anatoliese stad Purushanda om sy handelaars te beskerm. Weergawes van die verhaal in beide Hetities en Akkadies is ontdek. Van die Hetitiese weergawe het ses fragmente bewaar gebly en die Akkadiese weergawe is bekend uit verskeie manuskripte wat by Amarna, Assur en Ninevé ontdek is.[45] Die verhaal is tydrekenkundig onjuis en beeld Sargon in 'n 19de-eeuse milieu uit.[46] Dieselfde teks noem dat Sargon die See van die Weste (Middellandse See) oorgesteek en in "Kuppara" geëindig het, wat sommige skrywers vertolk as die Akkadiese woord vir Keftiu of Kaftor (die inwoners word Kaftorane genoem in Genesis 10:14), 'n antieke plek wat gewoonlik met Kreta of Siprus verbind word.[47]
Hongersnood en oorlog bedreig Sargon se ryk tydens die laaste jare van sy bewind. Die "Kroniek van Vroeë Konings" berig dat opstande in dié tyd uitgebreek het.
Toe hy oud was, het al die lande teen hom in opstand gekom, en hulle het hom in Akkad beleër; en Sargon het teen hulle geveg en hulle verslaan. Daarna het hy die land Subartu verslaan; en hy het hulle besittings na Akkad gebring. Maar weens die boosheid wat hy gepleeg het, was die god Mardoek kwaad en hy het sy volk met 'n hongersnood verwoes. Van die opkoms van die son tot die ondergang van die son het hulle hom teengestaan en hom geen rus gegun nie.[48] [verkort]
Kort nadat hy Sumer verower het, het Sargon op 'n reeks veldtogte vertrek om die hele Vrugbare Halfmaan te onderwerp. Volgens die Kroniek van Vroeë Konings, 'n latere Babiloniese geskiedkundige geskrif, het Sargon nie 'n teenstander of 'n gelyke gehad nie. Hy het die lande van die weste verower, standbeelde daar opgerig en buit oor die waters vervoer. Hy het in samewerking met die volke van die lande regeer.[26]
In die ooste het Sargon vier leiers van Elam verslaan en hulle stede verwoes. Die goewerneurs, onderkonings en konings het vasals van Akkad geword.[50]
Sargon het die onderwerp geword van legendes wat sy opkoms en nederige oorsprong beskryf, asook sy verowering van Mesopotamië in latere Assiriese en Babiloniese letterkunde. Benewens dié sekondêre en deels legendariese weergawes, is daar baie inskripsies deur Sargon self, hoewel die meeste daarvan net bekend is uit veel latere afskrifte.[51] Die Louvre het fragmente van twee oorwinningsteles van Sargon wat by Susa gekry is (waarheen hulle waarskynlik in die 12de eeu v.C. van Mesopotamië af vervoer is).[52]
Die Sumeriese Sargonlegende bevat 'n legendariese weergawe van Sargon se magsopkoms. Dit is 'n ouer weergawe van die voorheen bekende Assiriese legende wat in 1974 by Nippur ontdek en in 1983 die eerste keer geredigeer is.[53]
Die fragmente is onvolledig, maar dié wat bewaar gebly het, noem La'ibum as Sargon se vader. Ná 'n gaping spring die teks na Ur-Zababa, koning van Kisj, wat ná 'n droom wakker word; die inhoud van die droom word nie in die oorblywende deel van die tablet onthul nie. Om onbekende redes stel Ur-Zababa vir Sargon as sy skinker aan. Kort hierna nooi die koning Sargon na sy kamers om met hom sy droom te bespreek. Die droom gaan oor die godin Inanna wat Ur-Zababa in 'n rivier van bloed verdrink.[54] Ur-Zababa is baie bang en gee opdrag dat Sargon vermoor word deur Beliš-tikal, die hoofsmit. Inanna verhoed dit en beveel Sargon om by die poorte te stop omdat hy "met bloed besmet is". Toe Sargon na Ur-Zababa terugkeer, word die koning weer bang en besluit hy om Sargon na koning Lugal-zage-si van Uruk te stuur met 'n boodskap op 'n kleitablet waarin dié gevra word om Sargon te vermoor.[55] Die legende eindig hier; in die res van die teks word waarskynlik beskryf hoe Sargon koning geword het.[56]
Die deel van die vertolking van die koning se droom toon ooreenkomste met die Bybelse verhaal van Josef, en die deel van die brief met die doodsvonnis stem ooreen met die Griekse storie van Poseidon se seun Bellerofon en die Bybelse verhaal van Uria.[57]
'n Nieu-Assiriese teks uit die 7de eeu v.C. wat voorgee dit is Sargon se outobiografie, beweer die koning was die buite-egtelike kind van 'n priesteres. Net die eerste twee kolomme van die fragmente van drie tablette het bewaar gebly. Die eerste fragmente is omstreeks 1850 ontdek.[58] Sargon se geboorte word so beskryf:
My moeder was 'n hoëpriesteres; my vader het ek nie geken nie. My vader se broers was lief vir die heuwels. My stad is Azupiranu, wat aan die oewers van die Eufraat geleë is. My moeder die hoëpriesteres het my in die geheim gedra. Sy het my in 'n mandjie van biesies gesit waarvan die deksel met teer verseël is. Sy het my in die rivier gegooi. Die rivier het my na Akki die watertapper gedra. Akki die wapertapper het my as sy seun aangeneem en my grootgemaak. Akki die watertapper het my as sy tuinier aangestel. Terwyl ek 'n tuinier was, het Isjtar vir my haar liefde betoon, en vier en ... jaar lank was ek koning.
In sy boek van 1909 The Myth of the Birth of the Hero noem die psigoanalis Otto Rank ooreenkomste tussen die geboortelegende van Sargon en ander soortgelyke legendes, soos dié van Moses en Oidipus.[59] Ook Brian Lewis het die legende deeglik bestudeer en dit vergelyk met ander geboortemotiewe in Europese en Asiatiese volksverhale. Hy bespreek 'n moontlike argetipiese vorm, en skenk spesiale aandag aan die verhale van Sargon en Moses.[5] Ook Joseph Campbell het baie sulke vergelykings getref.[60]
Sargon is ook een van die baie voorstelle vir die identiteit van of inspirasie vir die Bybelse Nimrod. Ewing William (1910) het Sargon voorgestel gebaseer op sy vereniging van die Babiloniërs en die Nieu-Assiriese geboortelegende.[61] Yigal Levin (2002) het voorgestel Nimrod is 'n versameling van vehale oor Sargon en sy kleinseun, Naram-Sin, en dat die naam "Nimrod" van laasgenoemde afgelei is.[62]
Die naam van Sargon se hoofvrou, koningin Tashlultum, en dié van 'n paar van sy kinders is bekend.[63][64]
Sy dogter Enheduanna was 'n hoëpriesteres van die maangod in Ur en het rituele gesange gekomponeer.[65] Baie van haar werke, insluitende haar Verheerliking van Inanna, is eeue daarna nog gebruik.[66]
Sargon is opgevolg deur sy seun Rimush; daarna het nog 'n seun, Manishtushu, koning geword. Manishtushu is deur sy eie seun, Naram-Sin, opgevolg. Nog twee van Sargon se seuns, Shu-Enlil (Ibarum) en Ilaba'is-takal (Abaish-Takal), se name is bekend.[67]
Sargon van Akkad word soms die eerste mens in die aangetekende geskiedenis genoem wat oor 'n ryk regeer het (in die sin van die sentrale regering van 'n veelvolkige gebied),[69][70][71] hoewel vroeëre Sumeriese heerers soos Lugal-zage-si 'n soortgelyke aanspraak kan hê.[72]
Sy bewind lui ook die geskiedenis van Semitiese ryke in die antieke Nabye Ooste in wat tot amper 15 eeue geduur het, tot met die Achaemenidiese verowering sedert 539 v.C. Vir sowat twee millenniums ná sy dood is Sargon deur Mesopotamiese konings as 'n rolmodel beskou.
Die Assiriese en Babiloniese konings wat hulle ryke in Mesopotamië gevestig het, het hulleself beskou as die erfgename van Sargon se ryk. Sargon het dalk wel die idee van "ryk" gevestig soos wat dit in die latere Assiriese tydperk bestaan het; in die Nieu-Assiriese Sargonteks, wat in die eerste persoon geskryf is, daag Sargon latere heersers uit om "oor die swarthaarvolk" (dus die inheemse bevolking van Mesopotamië) te heers soos wat hy gedoen het.[73]
Sargon het dieselfde naam gehad as twee latere Mesopotamiese konings. Sargon I was 'n koning in die Ou-Assiriese tydperk en is waarskynlik na Sargon van Akkad genoem. Sargon II was 'n Nieu-Assiriese koning wat na Sargon van Akkad genoem is; dit is dié koning wie se naam in die Bybel voorkom as Sargon (Jesaja 20:1).
Die Nieu-Babiloniese koning Nabonidus het groot belangstelling getoon in die geskiedenis van die dinastie van Sargon en het selfs uitgrawings laat doen van Sargon en sy opvolgers se paleise.[74]
((cite web))
: AS1-onderhoud: url-status (link)